16. apr, 2016

Kultuurstropers is ‘moordenaars’ read:http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/kultuurstropers-is-moo

 

Die Islamitese Staat (Isis) het nie net tientalle antieke geboue in Palmira, Sirië, vernietig nie, maar ook massas landmyne in die gebied agtergelaat, wat die Russiese weermag nou probeer opspoor en uitgrawe. Foto: REUTERS

Kultuurstropers is ‘moordenaars’

Deur Liezel de Lange

Netwerk24 | 16 April 2016 00:00

Toe troepe van Mali, Tsjad en Frankryk in Januarie 2013 die antieke stad Timboektoe in Mali bevry het, het ’n spoor van vernietiging hulle ingewag.

Duisende antieke geskrifte van onskatbare waarde het verdwyn en talle geboue en ander kultuurskatte in dié uitsonderlike Unesco-Wêrelderfenisgebied aan die rand van die Sahara-woestyn is vernietig.

Timboektoe is een van daardie plekke op ons vasteland wat Afrikane kan help om hul trots en selfrespek terug te kry, het oudpres. Thabo Mbeki gesê toe hy dié stad in 2001 besoek het.

Die stad en sy duisende geskrifte bewys verskeie opvattings oor Afrika-kultuur en erfenis verkeerd, het Mbeki voortborduur. “Dit wys onder meer op ’n geskrewe en akademiese tradisie in Afrika – lank voor die aankoms van die Europese kolonialiste.”

Timboektoe was tussen 1100 en 1500 ’n sleutelhandelspos vir goud, ivoor, slawe en volstruisvere, maar die stad was veral bekend om sy indrukwekkende intellektuele tradisie. Akademici van so ver soos Egipte, Saoedi-Arabië en Spanje het die lang tog hierheen aangepak.

Dit was ’n intellektuele en godsdienstige spilpunt van die Moslemwêreld. Sommige skat dat tot ’n halfmiljoen manuskripte oor alles van astrologie en wiskunde tot medisyne en die liefde hier in verskillende biblioteke en in trommels in mense se huise geberg word.

So geïnspireer was die Suid-Afrikaanse afvaardiging dat verskeie plaaslike instellings onder leiding van die presidensie betrokke geraak het by ’n projek om Timboektoe se erfenis te help bewaar. 

Die nuwe Ahmed Baba-biblioteek in Timboektoe is deur die DHK-argitekfirma in Kaapstad ontwerp. Dié biblioteek is as deel van die Mali-Suid-Afrika-projek opgerig. Tot 23 000 antieke dokumente is hier bewaar voordat ekstremistiese Islamgroepe in 2012 die stad oorgeneem en hul hoofkantoor hier gevestig het.

Verskeie antieke dokumente is na Suid-Afrika gebring vir uitstallings en navorsing. Malinese personeellede is by die nasionale argief en biblioteke in Kaapstad opgelei in die restourasie en bewaring van sulke dokumente. 

’n Span ontwikkelaars, argitekte en bouers van Kaapstad het ook die indrukwekkende nuwe Ahmed Baba-biblioteek in Timboektoe gebou.

Die oorspronklike Ahmed Baba-instituut is in die 1970’s met die hulp van die Verenigde Nasies (VN) opgerig en het teen die draai van die millennium om en by 23 00 geskrifte gehuisves.

Die geskrifte, waarvan sowat die helfte toe al bestudeer is, dateer uit 1204, maar sommige is waarskynlik selfs ouer. Met Mbeki se besoek was dit duidelik dat die dokumente in die sentrum nie nog ’n dekade sou oorleef sonder behoorlike berging nie. 

Timboektoe was tussen 1100 en 1500 ’n sleutelhandelspos, maar die stad was veral bekend om sy indrukwekkende intellektuele tradisie. Onder die kenmerke van die stad is die tradisionele modderboustyl van tientalle moskees en ander heilige geboue wat as Unesco-Wêrelderfenis gelys is.

Mbeki was daar toe die Ahmed Baba-biblioteek in 2009 geopen is, maar teen daardie tyd as oudpresident. Met sy vertrek uit die Uniegebou het Suid-Afrika se betrokkenheid by die woestynstad basies opgedroog.

Ironies genoeg het Mbeki se Ahmed Baba-biblioteek die rebellegroepe in Timboektoe se hoofkwartier geword nadat hulle die gebied vroeg in 2012 oorgeneem het.

Ekstremistiese Moslemgroepe, waaronder Ansar ad-Din en Al-Kaïda, het met die hulp van plaaslike Toeareg-groepe die omgewing van Timboektoe, Gao en Kidal oorgeneem en as ’n sjaria-staat, die Onafhanklike Staat van Azawad, verklaar. Dit was gelukkig van korte duur, maar hulle het groot skade aangerig skryf dr. Marina Lostal, lektor in internasionale reg aan die Universiteit van Den Haag, in Global Policy Forum.

In Junie 2012 het die rebelle op Soefi-tempels, moskees en ander heiligdomme toegeslaan. Op videomateriaal wat die wêreld ingestuur is, kon gesien word hoe hulle “onheilige” historiese geboue met pikke en grawe afbreek. Die skade aan die antieke geskrifte is genadiglik beperk deurdat inwoners baie hiervan uit die stad gesmokkel of in die woestyn versteek het. 

Dr. Joris Kila, argeoloog en kunshistorikus aan die Universiteit van Wenen, het op ’n besoek aan Timboektoe in Januarie 2014 gevind drie historiese moskees met die graftombes van Soefi-heiliges soos Mahmoud Ben Amar, asook ’n klein Katolieke kerk is heeltemal vernietig. Kila spesialiseer in kulturele erfenis en die vernietiging daarvan in konfliksituasies.

Volgens ’n Unesco-verklaring is nog talle van die 16 mouso­leums op die Wêrelderfenislys verrinneweer.

“Dans, sing en die viering van Soefi-feeste is deur die ekstremiste verbied,” sê Kila. Dit is alles in ’n poging om die plaaslike kultuur en trots af te breek.

“Ook is die heilige deur van die 15de eeuse Sidi Yahya-moskee vernietig, net ’n paar houtskerwe het oorgebly.”

Die mense van Timboektoe het geglo die wêreld sou tot ’n einde kom as die deur oopgemaak word. Die ekstremiste wou met die vernietiging van die deur wys dat die opvatting ’n on-Islamitiese bygeloof is, verduidelik Kila.

Volgens hom is die struktuur van die Ahmed Baba-gebou nie beskadig nie, maar die toerusting is gesteel.

“Die meeste van die dokumente-versamelings is weg, maar dit is na die Malinese hoofstad Bamako geneem voordat die ekstremiste hul hande daarop kon lê.”

In Februarie 2016 is ’n spesiale inseëningseremonie, die eerste keer sedert die 11de eeu, in Timboektoe gehou, lui ’n Unesco-verklaring. Die fatiha (gebede) en voorlesings uit die Koran is gehou om ekstremisme hok te slaan en die heropbou van Timboektoe te vier.

Danksy die Malinese regering, Europese skenkers en Unesco het plaaslike vakmanne Timboektoe se antieke boumetodes gebruik om die skade te herstel. Die werk is teen Julie afgehandel.

“Ons is diep beïndruk met wat in hierdie Wêrelderfenisgebied vermag is. In ’n tyd wat gewapende groepe ons erfenis aanval, gee die herstelwerk aan die mousoleums hier ons hoop,” het Maria Böhmer, voorsitter van die Wêrelderfeniskomitee, by die seremonie gesê.

Ahmad al-Faqi al-Mahdi sal binnekort in die Internasionale Strafhof in Den Haag verhoor word vir die vernietiging van antieke geboue in Timboektoe in Mali. Dié foto van die antieke stad aan die rand van die Sahara-woestyn is geneem voordat ekstremistiese Islamrebelle die stad in 2012 ingeval en erge skade aan dié Wêrelderfenisgebied aangerig het.

Intussen is Ahmad al-Faqi al- Mahdi in Niger in hegtenis geneem en het die owerhede hom aan die Internasionale Strafhof uitgelewer, berig Al Jazeera.

Al-Faqi was die hoof van die Hisbah, die “morele brigade” in Timboektoe wat die regte en vryhede van Timboektoe se mense erg ingeperk het, lui die strafhof-klagstaat. Hy het intussen ook gebieg dat hy die aanslag op die “onheilige” kultuurskatte van Timboektoe gelei het.

Die saak teen Al-Faqi is gegrond op art. 8 van die Roomse Statuut van 1998, wat dit duidelik stel dat die vernietiging van historiese geboue sonder ’n goeie rede (soos dat daar gevegte tussen die geboue was) ’n oorlogsmisdaad is. Die aanklagte teen Al-Faqi is verlede maand geformaliseer en die strafhof se regters moet ’n verhoordatum vasstel.

“Dit is ’n uitsonderlike saak,” sê prof. Willem van Genugten van die departement internasionale reg aan die Tilburg-universiteit in Nederland. “Dit gaan hier nie oor bloedvergieting van burgerlikes nie, maar oor die uitwissing van geskiedkundige belang.”

Al-Faqi is nie die eerste mens wat in Den Haag aangekla word van die vernietiging van monumente of plekke van godsdienstige belang nie, maar dit is die eerste keer die hoofklag, skryf Lostal.

Ná die oorlog in die voormalige Joego-Slawië moes soldate ook boete doen vir die bombardering van die ou stad Dubrovnik asook die Mostar-brug.

“Oral in die nuus sien ons kulturele erfenis, dikwels in die wieg van die beskawing, wat beskadig, gesmokkel en misbruik word,” sê Kila. “Wesenlike dele van ons (inter)nasionale identiteit, geskiedenis, geheue en kulturele hulpbronne gaan verlore.”

Oral in die media was daar onlangs foto’s van antieke tempels en geboue in die antieke stad Palmira, Sirië, wat deur die Islamitiese Staat (Isis) in puin gelaat het.

In 2001 het die wêreld ook danksy sosiale media toegekyk hoe die Taliban die Boeddha-beelde van Bamiyan, wat uit 500 n.C. dateer, in Afganistan vernietig.

Die bewaring van dié soort erfenis kan nie net die verantwoordelikheid van argeoloë, kunskenners en bibliotekarisse wees nie, waarsku Kila. Die aanvalle op die mensdom se kulturele erfenis toon kenmerke van sielkundige oorlogvoering, kulturele massamoord en oorlogsmisdade (soos erken deur die VN).

Kila verwys na die Italiaanse skrywer Primo Levi se skrywe: If This Is a Man waarin Levi dokumenteer hoe die Nazi’s mense se identiteit vernietig het. Deur mense van alle persoonlike besittings en verwysings te stroop, verloor mense hul identiteit.

“Mense, soos diegene in konsentrasiekampe wat alles verloor, kan ook hulself verloor,” sê Kila.

Mbeki sou hiermee akkoord kon gaan, want hoewel Timboektoe met sy besoek nie onder beleg was nie, was en is dit ’n herinnering aan ’n trotse Afrika-geskiedenis wat nie aldag wyd erken word nie.

“Afrikane moet hul trots en selfrespek terugkry. Die kolonialiste wou ontken dat ons ’n verlede gehad het. Beheer was van deurslaggewende belang en saam met beheer het uitwissing, ontkenning en die vervalsing van Afrika se prekoloniale geskiedenis gekom,” het Mbeki hier gesê.

Alle Regte Voorbehou © 2016 Media24